GALLERY

KERK:

As gevolg van die herroeping van die Edik van Nantes deur Lodewyk X1V in 1685, is geloofsvryheid in Frankryk opgehef en moes duisende protestante aldaar hulle vaderland verlaat en elders ‘n nuwe tuiste gaan soek. Ongeveer 200 Franse Hugenote het gedurende die laaste ongeveer 12 jaar van die sewentiende eeu na Suidelike Afrika gekom waar hulle in die omgewing van die Stellenbosch en die huidige Franschhoek en Drakenstein (Paarl) gevestig is.

In 1691 het die Here XV11 verlof gegee en het die gemeente in daardie jaar tot stand gekom. Ds. Pierre Simond was die eerste leraar van die gemeente en het die bediening tot 1702 waargeneem.

Die eerste kerkgebou is in 1694 naby die plaas Babylonstoren in die omgewing van die huidige Simondium opgerig. Klaarblyklik was die Bolandse winterreën te erg en het die kerk spoedig in ‘n bouvallige toestand verval. Gevolglik is in 1717 besluit om die gebou te sloop. Die gemeente het dadelik aan die werk gespring en in 1720 is die nuwe kerk, wat teen ‘n koste van ongeveer R4 000 opgerig is, in gebruik geneem op die terrein waarop die huidige kerkgebou vandag staan.
Aan die einde van die agtiende eeu het dit duidelik geword dat die kerkgebou nie meer doeltreffend was nie. Aan die bekende Frans-gebore ingenieur en argitek, Thibault, is toe opdrag gegee om ‘n plan vir die nuwe kerkgebou te teken. Later is van die plan van Thibault afgesien, en in 1800 het ene ManhafteKüchler ‘n nuwe plan aan die kerkraad voorgelê. Dit was aanvaar.

Die nuwe kerk sou in die vorm van ‘n Griekse kruis gebou word. Binnekant is die kerk die eenvoud self, terwyl die gewels aan die buitekant beskou word as van die mooiste in die land.

Aan die westergewel is die volgende treffende Latynse spreuk aangebring : “Sol justitiae illustra nos”. (“Die Son van geregtigheid bestraal ons”.)
Op 20 April 1805 het die inwyding van die nuwe kerkgebou plaasgevind. Ds. Serrurier van Kaapstad het by dié geleentheid die inwydingsrede gevoer.
In 1824 is die kerk van 'n solder voorsien en is twee galerye met banke in die noorder- en suidervleuels aangebring. In die res van die kerk is daar van stoele gebruik gemaak. In 1852 is die kerk vergroot deur die muur tussen die kerk en die konsistorie te verwyder en 'n nuwe konsistorie aan dieselfde vleuel aan te bou. In 1878 is besluit om die stoele in die kerk met banke, wat tans in gebruik is, te vervang. In pas met die dinamiese huidige gemeente, is daar in 1994 die modernste oudiovisuele apparaat geïnstalleer.

PREEKSTOEL:

Die preekstoel wat tans in gebruik is, is in 1838 deur mej. M.M. Krynauw aan die gemeente geskenk. Dit is van stinkhout gemaak en veral opmerklik is die koperpen waaraan ds. G.W.A. van der Lingen, volgens Nederlandse gebruik, sy steek (driekantige hoed) opgehang het. Die duif wat van die plafon van die preekstoelhang, dien as simbool van die Heilige Gees.

Voor die preekstoel staan die voorlesersknapie. Langs die preekstoel hang die “armbeurse” waarmee eers gekollekteer is. Onderaan elke sakkie het ‘n silwerklokkie gehang waarmee slapende aanbidders, vanweë die al te lang preek, vir die kollekte wakker gemaak is.

ORREL:

Die eerste orrel van die gemeente is in 1791 in gebruik geneem, maar in 1831 is dit deur ‘n nuwe orrel vervang. Dié orrel het langer diens gedoen as die eerste, maar in 1894 is dit deur ‘n derde orrel vervang. Teen 1927 is besluit om die orrel te vergroot en in 1929 is die vergrote orrel in gebruik geneem. Ná die aardbewing van 1969 was dit nodig om die kerkgebou te restoureer en is daar besluit om ‘n nuwe orrel te bou eerder as om die reeds verweerde een te herstel. Die pype en die bolwerk is soos dié van die oorspronklike 1791-orrel en is met houtsneewerk versier. Dietrich Kruger-Haye het die houtsneewerk gedoen en die orrel is gebou deur André Wattel en Seuns, Suidelike Orrelbouers.

KERKHOF:

Die klokpilare wat links voor die kerk staan, is in 1811 opgerig. Die inskripsie op die klok lui : “MDCCX1111 Claes Noorden et Albert de Grave het my in 1714 in Amsterdam gemaak”. Die ysterhekke wat tans nog by die ingang van die kerkterrein is, is in 1808 deur Jan Warnick aangesit.

Die kerkhof is aangelê toe die terrein waarop die huidige kerkgebou staan, verkry is. Volgens besluit van die toenmalige kerkraad sou die kerkhof vyf en dertig vierkante roede beslaan. Dit is in 1720 in gebruik geneem. ‘n Nuwe fase in die bestaan van die kerkhof is die Tuin van Herinnering waar die as van oorledenes bewaar word. Dit is in 1999 in gebruik geneem. Ongeveer 7 500 gestorwenes, die meeste van Franse afkoms, het reeds in hierdie kerkhof ‘n laaste rusplek gevind. Inligting oor sowat 6 000 is georden en gepubliseer.

EREDIENSTE

09:00 Eredienste 
09:00 Kleurterkerk en Junior Bybelskool 
09:30 Erediens Huis Vergenoegd 
18:00 Senior Bybelskool

VOLG ONS OP SOSIALE MEDIA

Facebook