kerk foto
 
Lydenstyd, April 2020
 
Lees Markus 14 32-42
 
Die aand waarop Jesus gearresteer is, het met ’n maaltyd begin. Soos die gebruik was, het Jesus en sy vriende aan die einde van die maaltyd die “lofsang” (halleel) gesing, wat bestaan uit enkele Psalms: vanaf Ps 116 tot Ps 118. (Daar was ook ’n langer weergawe).
Dit raak my altyd dat Jesus daardie aand ná die maaltyd en voor sy gebed in Getsemane onder andere dié woorde uit Psalm 116 gesing het:
Bande van die dood het my omring
angste van die doderyk het my oorval
Toe het ek die Naam van die Here bly aanroep:
“Ag Here, red tog my lewe!”
 
Treffend is Totius se beryming van dié Psalm, byvoorbeeld:
God het ek lief, want dié getroue Heer
hoor na my stem uit vrye welbehae;
ek roep Hom aan in al my lewensdae,
Hy skenk my hulp, Hy red my, keer op keer
 
Na die psalms gesing is, vertrek hulle na die Olyfberg. Net Judas gaan nie saam nie. Dis hier waar Jesus dikwels, as die skare Hom oorval het, die stilte opgesoek het. Soms saam met sy dissipels. Hy is op pad na Getsemane, ’n private tuin met olyfbome teen hang van die Olyfberg.
 
By die tuin aangekom, neem Hy neem nie al sy dissipels saam met Hom in nie. Hy vra hulle om te wag totdat Hy klaar gebid het en neem dan drie van die dissipels saam met hom. Dié drie is sy vertrouelinge, wat meermale,  sonder die ander, by hom was met besondere oomblikke. Dieselfde drie, Petrus, Jakobus en Johannes, was by toe die dogtertjie van Jaïrus uit die dood opgewek is, en weer by die berg van verheerliking.  Hulle drie het gesien en ervaar:  Nie die dood het die laaste sê nie, maar die leweBeter vriende as hulle kon Hy nie met hom saamneem nie.
 
In die tuin word Jesus oorval deur angs.   Hy begin ontsteld en benoud word. Hy sê vir sy vriende: My siel is diep bedroef tot die dood toe. Bly hier en waak.
 
Hy gaan self alleen verder, val op die grond neer en begin bid dat dié uur moet verbygaan. Donkerheid en angs word hier saamgepers in die eensame figuur in die tuin. Sy angs word met duidelike taal en sterk woorde beskryf.
’n Mens hou asem op as jy Jesus so sien.
 
Is Hy dan soos ons? So breekbaar en oneindig verwondbaar?
 
Jy wil wegkyk, want dié lyding is te swaar  om te aanskou.
Hy is  soos een vir wie mens jou gelaat verberg. (Jesaja 53)
 
In ’n enkele uur het alles verander. Kort gelede het Hy tydens die lofsang gesing oor die vreugdebeker – die kelk van heil. Maar hier is sy gebed: Laat hierdie drinkbeker by my verbygaan.
En tog voeg Hy by : Nie my wil nie - ú wil moet gebeur.
 
Gelukkig het Jesus vriende. As Hy tydens sy gebed nie lig sien nie, gaan Hy na hulle toe om in hul oë te kyk en dalk bemoedig te word. Maar hulle het intussen aan die slaap geraak!
Miskien is hulle slaap méér as gewone slaap wat mens oorval as gevolg van moegheid. Dit is asof hulle hul oë toemaak vir dit wat Jesus beleef en deurgaan; dat hulle sy lyding nie wil aanskou nie.  Miskien is dit soos die teoloog Nico ter Linden sê:  “Die slaap van die dissipels is die slaap van almal wat hul afsluit van die Christus wat opnuut weer gekruisig word.”
 
Jesus roep hulle wakker. Hy noem Petrus, wat Simon genoem word, op sy naam. Amper asof hy wil sê: Onthou jy nog, Simon, dat Ek jou geroep het toe jy ’n visserman was en dat jy my vol vertroue gevolg het?  En dat jy ’n  uur of wat gelede gesê het dat jy my nooit sal verloën nie?  En nou slaap jy?  Was jy nie in staat om één uur saam met my te waak nie?
 
Hy gaan terug om te bid en dan kom hy weer na sy slapende vriende. Hy beweeg as’t ware heen en weer tussen God en mense.
Hy is nou alleen, totaal eensaam.
 
  
       Vreugde het baie vriende
        Verdriet laat jou alleen
        By Kana was soveel gaste
        In Getsemane net een
 
Wanneer Jesus sy vriende die derde maal aan die slaap aantref, sê Hy:
Slaap nou maar en rus. Dit is genoeg
En dan:  Die uur het gekom. Staan op. Laat ons gaan !
 
Ek wonder soms: Geld die opdrag om met Christus te waak, vandag nog?  Word óns daartoe geroep? Indien wel, wat sou dit beteken?
 
Op dié vrae is daar daar sekerlik baie en uiteenlopende antwoorde. Die teoloog Dietrich Bonhoeffer se insigte is hier van besondere betekenis.
Hy was ’n bekende prediker en teoloog in Duitsland toe die Nazi-bewind met hul vervolging begin het. Hy het met groot erns teen die hele Nazi-beweging en hul leiers gepraat en gepreek. Hy is eers verbied om op te tree, en toe in April 1943  in hegtenis geneem. Hy was ’n gevangene tot by sy dood, net voor die einde van die 2de wêreldoorlog. Op 9 April 1945 is hy deur die Nazis om die lewe gebring.
 
Terwyl hy in die tronk was, het hy talle briewe geskryf waarin hy    veral nagedink het oor wat geloof en christenskap in die daaglikse lewe beteken.  In meer as een van sy briewe het hy gewonder wat dit vir hom en die mense wat hulself Christene noem, beteken as Jesus sê: Waak saam met My.
 
Hy skryf:
“Ek het ontdek, en ek ontdek tot op hierdie oomblik, dat dit slegs deur voluit in hierdie wêreld te leef, dat ’n mens leer om te glo.
Met  ‘leef in hierdie wêreld’  bedoel ek om sonder voorwaardes te leef te midde van die lewe se take, probleme, suksesse en mislukkings, ervaringe en verleenthede. Wanneer ons dit doen, werp ons onsself volledig in God se arms. Dan is ons nie op ons eie lyding gerig nie, maar op God se lyding in die wêreld. So waak ons saam met Christus in Getsemane. Dit, dink ek, is geloof; dit is bekering; en dit is hoe jy  ’n mens word, en ’n Christen.”

 

EREDIENSTE

09:00 Eredienste 
09:00 Kleurterkerk en Junior Bybelskool 
09:30 Erediens Huis Vergenoegd 
18:00 Senior Bybelskool

VOLG ONS OP SOSIALE MEDIA

Facebook