kerk foto
 

April 2020: Lydenstyd
Enkele gedagtes oor Jesus se lydensweg soos wat dit beskryf word in Johannes 13-15

Lees asseblief: Joh 13:1-38, 14:1-12 & 15:9-17

Oor ’n week of wat vier ons Paasfees. In Johannes se evangelie word aangrypend vertel van die laaste Paasfees wat Jesus saam met sy dissipels gevier het. Wat treffend is, is dat Hy hulle aanspoor om die fees te hou al hang daar ’n wolk oor hulle en word Jesus se lewe bedreig.

Dít teen die agtergrond dat die week van die Paasfees so anders begin het. Op die Sondag het Jesus die stad binnegery op ’n donkie. Mense het saamgedrom en Hom verwelkom deur palmtakke te swaai en Hossana te skree. Dít was ’n teken van feestelikheid en sluit aan by woorde uit Psalm 118: Wuif met die takke! Begin met die fees! En waar uitgeroep word: Here, red tog! (In Hebreeus: Hosianna!) Toe die skare Jesus sien, het dit die jubelkreet geword waarmee hul Hom begroet het.

Enkele dae ná die intog het die atmosfeer in die stad aansienlik verander. In hoë kringe word ’n komplot teen Jesus gesmee en word haat teen Hom aangeblaas. Talle mense word op sleeptou geneem. Dit is duidelik dat alles afstuur op ’n ramp.
Jesus se triomftog gaan ’n lydenspad word. Maar voor die finale treurspel begin, word daar ’n klein oomblik beskryf wat soos ’n rusplek, ’n oase langs die pad, ervaar word.

Dié oomblik van rus is juis die Paasmaaltyd waarby Jesus en sy dissipels gaan aansit. Dit is ’n keurig voorbereide maaltyd, waaroor daar groot afwagting by almal was. Jesus self het gesê: Ek het baie daarna uitgesien om dié maaltyd saam met julle te geniet.
Uit die gesprek aan tafel word dit duidelik dat Jesus besig is om van hulle afskeid te neem en dat uiteenlopende emosies ervaar word.
Enersyds is daar ’n gevoel van gemeensaamheid en verbondenheid, liefde en vertroue, wat wonderlik gepas is vir ’n gesamentlike eetmaal.
Andersyds is daar ’n ervaring van onsekerheid en ontnugtering.
Daar is sprake van verraad, verloëning en van mense wat mekaar in die steek laat. Die dissipelkring dreig om uitmekaar te spat.
Die herder gaan geslaan en sy kudde verstrooi word.

Uit hul vrae en opmerkings sien ons dat hulle verward en ontredderd voel. Hulle ervaar dat hulle uit warmte en lig beweeg na donker en koue. Paniek en onrus pak hulle beet – gevoelens wat dikwels geassosieer word met lyding en afskeid.

Daarom is dit nodig om hulle gerus te stel, wat Jesus dan ook doen as Hy liefdevol en dringend sê: Julle moet nie ontsteld word nie.
Woorde wat verstaan kan word as: Moenie oorgee aan paniek nie. Moenie so wantrouig, agterdogtig, sinies en ongelowig wees nie.

Mens wonder of Hy hulle kan lei van paniek na vrede; van disoriëntasie na vertroue?
Sy woorde is nie bloot oppervlakkige troos nie. Hy nooi hulle uit om opnuut te glo met werklike oorgawe en geloofsvertroue:
Julle vertrou tog op God? Vertrou My dan ook!

En dan brei Hy op dié woorde uit met ’n visie oor die toekoms wat hulle tegemoet gaan en waarin hulle die troos en nabyheid van God gaan beleef.

Om iets daarvan te begryp, moet ons in gedagte hou dat Johannes, nog voordat hy die maaltyd beskryf, vir ons ’n wenk gee, ’n sleutel waarmee ons hierdie vreemde aand beter kan verstaan: Hy begin die vertelling deur te skryf:
Hy het sy mense liefgehad tot aan die einde.

Alles wat Jesus tussen die begin van die maaltyd tot by sy heengaan sou sê en doen, word met dié woorde saamgevat.

In die lig hiervan moet ons Jesus se optrede by die maaltyd verstaan. Dit is sy laaste avondmaal saam met hulle. Op ’n onverwagte oomblik staan Jesus van die tafel op, en sonder om ’n woord te sê, trek Hy sy bokleed uit. Mens wonder of die dissipels vermoed het dat die aflê van sy kleed iets te doen het met die aflê van sy lewe?

Hierna neem Hy ’n linnedoek en omgord Hom daarmee.
Sy dissipels kyk verbaas toe: Wat gaan Jesus doen?
Hy gooi water in ’n bak en begin een vir een se voete te was en af te droog met die linnedoek.

Die was van voete by ’n maaltyd was nederige slawewerk - daar word laag op die grond gekniel om dit te doen. Hy, die Heer, tree op as ’n kneg, want Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien.

Almal se oë volg Hom terwyl Hy van die een na die ander gaan.
Almal hou asem op. Daar heers ’n doodse stilte.
Jy hoor net die geluid van die water in die bak.

Petrus begin praat, en wil Jesus keer om sy voete te was, maar
Jesus laat hom nie van stryk bring nie. Inderdaad, hier waar Jesus kniel, word liefde wat tot die einde duur, sigbaar.

Eers ná hierdie besondere oomblikke begin Jesus praat.
En dan dit is die taal van liefde.
Hy sê onder andere: Groter liefde het niemand as dit nie,
dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.
Ek het julle lief: Bly in my liefde!
Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.

Binne dié konteks van liefde, praat Hy ook oor vrede.
As Hy praat oor sy weggaan en lyding, sê Hy dat Hy iets nalaat. Vrede laat Ek julle na.
Hy druk dit op hul hart dat hulle die gedagte oor vrede nie verkeerd moet verstaan nie. Hy sê: Dit is nie vrede soos wat die wêreld aanbied nie.
Die vrede wat die wêreld aanbied is gebaseer op mag en magsvertoon. Sy vrede word nie op mag en vrees gebou nie, maar op liefde. God se liefde. Liefde wat duur tot die einde.
Dié vrede géé Hy aan ons.
Die vraag is of ons dit werklik glo en aanvaar.
Eers wanneer ons dit glo en omhels, kan ons draers word van liefde.
Dan kan ons vredesgesante genoem word – mense wat by mekaar kniel en mekaar bedien.
Franciscus van Assisi se bekende gebed vertel van die verlange om so ’n vredesgesant en liefdesdraer te word:

Maak my 'n instrument van u vrede
Waar daar haat is, laat my liefde saai
Waar daar verontregting is, vergifnis
Waar daar twyfel is, geloof
Waar daar wanhoop is, hoop
Waar daar droefheid is, vreugde
Waar daar donkerte is, lig

Miskien is dít die gebed waarmee ons in hierdie lydenstyd
(ook te midde van al die lyding in die wêreld)
dié Paasfees tegemoet kan gaan.
 

EREDIENSTE

09:00 Eredienste 
09:00 Kleurterkerk en Junior Bybelskool 
09:30 Erediens Huis Vergenoegd 
18:00 Senior Bybelskool

VOLG ONS OP SOSIALE MEDIA

Facebook